Voordat ek enigiets anders sê, erken ek dat hierdie vraag, “Is daar werklik slegs een god?” beide ongeloofwaardig en godslasterlik klink. Maar u ken vir my, ek vra normaalweg vrae wat die meeste mense nie sou vra nie. So, hier gaan ons: Lê die Bybel werklik aan sy gehoor ‘n monoteïstiese wêreldsiening voor (nl. dat slegs een god bestaan)? Die antwoord op hierdie vraag, is verbasend – nee.
Inteendeel, weerspieël die Bybel die antieke wêreldsiening van ‘n god-verstopte heelal. Hier is slegs ‘n paar verteenwoordigende teksgedeeltes:
“God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode. . . . Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste” (Psalm 82:1,6, Ou Vertaling)
Volgens die Qumran/LXX vertaling van die Hebreeus van Deuteronomium 32:8, het die Allerhoogste die grense van volke vasgelê “volgens die getal van die godeseuns.”
“Erken die HERE, godeseuns; erken die HERE – sy majesteit en krag” (Psalm 29:1, Nuwe Testament en Psalms: ʼn Direkte Vertaling)
“o Here, wie is soos U onder die gode?” (Eksodus 15:11, Ou Vertaling).
“Want die Here julle God is die God van die gode en die Here van die here; die grote, magtige en gedugte God . . .” (Deuteronium 10:17, Ou Vertaling).
“Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Eksodus 20:3, Ou Vertaling)
Die siening van die goddelike wêreld wat in die Bybel aangebied word, is nie monoteïsties nie, maar eerder henoteïsties (daar bestaan ‘n menigte gode, maar Een Allerhoogste God bestaan bo almal). Apostel Paulus, wie se denkwyse baie ooreenstem met hierdie gedagte (as gevolg van sy Farisese verstaan van die Shema), het die volgende geskryf:
“Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is — soos daar baie gode en baie here is — tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Korintieers 8:5-6, Ou Vertaling).
Daar is ander kragtige hemelse wesens (dit is hoe gode verstaan is in Bybelse tye – enige god is groter as enige mens). Ons verwys nou in die algemeen na hulle as engele en demone (sowel as owerhede en magte, maar in die Bybelse tye het die meeste mense hulle gode en/of seuns van god/e genoem. Moses, Jesus en Paulus het duidelik hierdie wêreldsiening veronderstel. Hulle was ook in ooreensteming op ‘n baie meer wesenlike punt. Terwyl daar moontlik ander “gode” was, is slegs God die Allerhoogste, die God van Abraham, Isak, en Jakob waardig om aanbid, vereer en gehoorsaam te word! Lees weer die Hebreeuse Bybel/ Ou Testament en die Nuwe Testament soos dit aanvanklik bedoel was om gelees te word!