Kom ons spring weg met ‘n bietjie van ‘n donker prentjie.  Nêrens in die Heilige Skrif word melding gemaak van ‘n fees ter herdenking van die geboorte van Christus Jesus nie.  Nêrens in die Skrif kry ons enige klinkklare aanduiding van die datum van hierdie grootse gebeurtenis nie. (Hierdie artikel was geinspireer deur ‘n meer breedvoerige een wat baie meer detail omtrent hierdie onderwerp verskaf. Klik hier om die artikel te lees.)

Die gebrek aan Skriftuurlike detail rondom die geboorte van die Koning van die Jode, staan in skerp kontras met die besonder spesifike detail omtrent sy dood (elk van die vier Evangelies noem die presiese tyd van Jesus se dood).

Laat in die tweede eeu het die Griekse kerkvader Origenes die spot gedryf met die jaarlikse viering van Romeinse verjaardae, en hulle as diepgesetelde heidense gebruike afgemaak.  Dit laat die sterk indruk dat Christen-gemeenskappe nie Kersfees gevier het gedurende Origenes se leeftyd nie (ongeveer 165-264 n.C.).  Die eerste “kerk” figuur wat die datum van Jesus se geboorte bespreek het, was Clement (ongeveer 200 n.C.), ‘n Egiptiese prediker van Alexandrië.  25 Desember was egter nie eens genoem in hierdie verband nie.  Teen die middel van die vierde eeu, egter, vind ons dat Westerse kerke die geboorte van Christus op die 25ste Desember vier, terwyl Oosterse kerke dit op die 7de Januarie vier.

Hoe het die vroeë Christene op hierdie datums besluit?

Verbasend genoeg het die vroeë kerk ‘n baie Joodse redenasie gevolg – naamlik dat die begin en einde van belangrike verlossingsgebeure dikwels op dieselfde datums plaasvind (Babiloniese Talmud, Rosh Hashana 10b-11a).  Aan die begin van die derde eeu het Tertullianus beweer dat hy weet presies wanneer Jesus gesterf het (die 14de Nissan, oftewel 25 Maart) en dat hy dus ook weet presies wanneer Jesus verwek is!  Hy was heelwaarskynlik heeltemaal verkeerd in sy afleidings, maar ten minste kan ons nou sien hoe daar op hierdie datum vir Kersfees beland is.

Die redenasie was as volg.  Indien Jesus verwek is op die 25ste Maart, sou die 9 maande verloop van Maria se swangerskap ons uitbring by 25 Desember.  Dit is interessant, aangesien die 1ste Januarie tradisioneel gevier is as die dag van Jesus se besnydenis (8 dae ná die aand van 24 Desember).

Dit is belangrik om daarop te let dat dit eers teen die 4de tot 6de eeu na Christus is wat Christene begin het met die kersten van die heidense vieringe van die mense wat hulle evangeliseer het. Ongetwyfeld is dit teen hierdie tyd, maar nie vóór dit nie, wat Kersfees sommige van sy heidense kenmerke aangeneem het.  Hoekom? Want tot ongeveer 300-320 n.C. was Christene gewikkel in ‘n teen-kultuur oorlog met die heidene van die Romeinse en Persiese wêreld.  Dus was hulle nog glad nie ontvanklik vir kulturele toegewings nie.

Omrede 25 Desember 100-150 jaar vóór die kerstening van heidense vieringe as die veronderstelde datum van Jesus se geboorte aanvaar is, is dit onredelik om af te lei dat hierdie datum aanvaar is juis om Romeinse heidene te plesier – soos wat populêre samesweringsteorieë beweer.

Dit is waar dat ‘n Romeinse Keiser in 274 n.C. die 25ste Desember verklaar het as “Dag van die Onoorwinlike Son” (Sol Invictus), maar dit was sowat 70 jaar nadat Christene besluit het op 25 Desember as hulle Kersfees-datum.  (Buitendien is daar spekulasie dat die dekreet uitgevaardig is juis om die viering van die “nuwe” Christelike fees te probeer onderdruk).  Voordat ons die hoofvraag beantwoord, kom ons beantwoord ‘n paar verwante vrae:

Is Kersfees ‘n Bybelse fees?

Nee, dit was nie een van die feeste deur God ingestel in die Bybel nie.

Is daar heidense elemente in die viering van Kersfees soos ons dit vandag doen?

Verseker. Sonder enige twyfel.

Is 25 Desember die korrekte datum vir die herdenking van Jesus se geboorte?

Miskien, maar dis hoogs onwaarskynlik.

Laastens, is Kersfees ‘n Heidense Fees?

Daar is niks heidens aan die spekulasie dat 25 Desember Jesus se geboortedag is nie.

Onakkuraat?

Waarskynlik.

Heidens?

Nee.

BEGIN YOUR JOURNEY OF DISCOVERY

LEAVE A REPLY

Please enter your name here
Words left: 50
Please enter your comment!